Februarie 2019 Nuusbrief – Stephan Louw

Volhoubare boerdery

Die aanhoudende droogte toestande wat groot dele van Suid Afrika die afgelope paar jaar teister het baie veeboere se weiveld geknou.  Baie van hierdie weiding sal slegs kan herstel deur die regte beweidingstelsel toe te pas tesame met goeie reënval. Om die volhoubaarheid van die weiveld op ’n plaas te verseker, is dit belangrik dat ’n boer kennis dra van alle belangrike en smaaklike plante in sy omgewing wat as indikatorplante vir sy weiding dien.

Die weiding ekostelsel is op die langtermyn slegs volhoubaar as die plaas se veldtoestand verbeter of in ’n optimale toestand verkeer.  Dit maak nie saak hoe goed die boer se lampersentasie of tussenlam periode is nie;  as sy weiveld verswak, is dit ’n vroeë waarskuwing dat die veeboerdery op ‘n afdraende pad is.

‘n Paar belangrike riglyne vir volhoubare weiveld produksie en benutting kan saamgevat word onder drie belangrike punte, naamlik: (1) veldtoestand, (2) weidingkapasiteit en (3) veebelading.

Die veldtoestand kan gesien word as die vermoë van die veld om diereproduksie te onderhou en word bepaal deur te kyk na die verhouding smaaklike plante teenoor die minder smaaklikes.  Die veldtoestand kan dus gesien word as die aantal diere wat op die veld aangehou kan word sonder dat die veld ‘n negatiewe reaksie daartoe toon, met ander woorde die weidingkapasiteit daarvan.  Gereëlde waarnemings van die veldtoestand is noodsaaklik om vas te stel of die veebelading (die boer se skatting van die aantal diere wat op die veld aangehou kan word) in ooreenstemming is met die weidingkapasiteit (die werklike produksiepotensiaal van ’n spesifieke stuk veld).

Weidingsisteme kan in breed as drie verskeie sisteme gesien word, naamlik:

(1) Laedrukbeweiding (LDB),
(2) Hoëdrukbeweiding (HDB) en
(3) Ultrahoëdrukbeweiding (UHDB).

Dit is van uiterse belang om die voordele of nadele van elke sisteem te verstaan om volhoubaar in jou area te boer.

(1) Laedrukbeweiding (LDB):

Van die drie weidingsisteme is hierdie sisteem glad nie voordelig vir die volhoubaarheid van die weiding ekosisteem nie en word in geen area aanbeveel nie. Veedruk in hierdie sisteem is laag en kampe word vir lang periodes benut wat hoofoorsake van veldagteruitgang is. Dit lei daartoe dat die vee die hergroei vreet en die wortelstelsels beskadig wat die grootste inhibitor van ‘n gesonde ekostelsel is. In so ‘n stelsel vind aanhoudende seleksie van die smaaklike, meer voedsame plante plaas wat lei tot die verhoging van indringerplante wat oor ‘n laer voedingskwaliteit beskik.
Solank toestande gunstig is sal dit redelik maklik wees om vee se kondisie te handhaaf, die probleem kom in as die toestande nie meer gunstig is nie, byvoorbeeld seisoenale en rampdroogtes. Die smaaklike weiding kry nie kans om te herstel nie en so word plek gemaak vir indringerplante van laer kwaliteit. Hierdie sisteem sal ‘n duur voedingsprogram nodig hê om diere deur ‘n droogte te help en is nie die manier om volhoubaar te boer nie.
Gevolge van laedrukbeweidingstelsels:
• Vee vreet hergroei van plante
• Onsmaaklike indringerplante raak meer
• Drakrag verminder
• Gehalte en hoeveelheid weiding neem af
• Herstel van veld word al hoe moeiliker en duurder

(2) Hoëdrukbeweiding (HDB):

Hoëdrukbeweiding gaan gepaard met ‘n groter aantal diere per kamp vir ‘n korter periode. Die onmiddelike resultaat is ‘n toename in biomassa danksy die impak van die diere op die veld ekologie. Alhoewel hierdie stelsel myle beter is as die LDB-stelsel het navorsing bewys dat dit slegs voordelig vir die eerste paar seisoene sal wees omrede die veedruk steeds te min is om volledige benutting van alle plantsoorte teweeg te bring. Hierdie sal veroorsaak dat daar steeds seleksie van smaakliker plante plaasvind.
Vee se kondisie in so ‘n sisteem sal in droeër tye beter gehandhaaf kan word as in die LDB-sisteem. As vee na ‘n vars kamp verskuif word sal hulle kondisie aanvanklik toeneem en daarna afplat tot daar van kamp verskuif word. Die probleem met die HDB-sisteem is dat die mikrobes populasie van die rumen tyd nodig het om aan te pas by swakker gehalte weiding. Hierdie probleem kan wel oorkom word deur ‘n byvoeding in die vorm van ‘n lek te gee wat die mikrobes sal stimuleer om die nodige funksie van droëmateriaal vertering te optimaliseer. Lekke wat hierdie funksie kan verrig wissel van area. As ons kyk na ‘n oorwegende gras- of stoppelland area kan Veekos Kalahari lek uitstekend dien as ‘n onderhoudslek op genoegsame droë grasse / stoppels terwyl Veekos Produksielek goed sal werk vir vee wat hul produksiefase betree of alreeds in produksie is. Areas wat oorheersende bossieveld het sal ‘n energie tekort hê en deur Veekos Energielek as aanvulling,   sal dit ‘n positiewe uitwerking op die diere se kondisie hê deur die tekorte in die veld aan te vul.

(3) Ultra – hoëdrukbeweiding (UHDB):

Navorsing het getoon dat hierdie manier van beweiding die naaste aan die natuurlike patroon van weiding in die verlede vir diere was. Deur menslike inmenging het ons die natuurlike patroon van beweiding beïnvloed deur kampstelsels in te bring. Die idee van hierdie stelsel is om verskuifbare kampe / drade te hê waar ‘n hoë konsentrasie vee vir ‘n baie kort periode ‘n klein gedeelte veld bewei en dan verskuif word na ‘n volgende gedeelte. Hierdeur word kompetisie weiding toegepas en ‘n groot verskeidenheid, smaaklik en minder smaaklike plante, word benut. Seleksie van slegs smaaklike plante word dus uitgeskakel en sodoende verhoog die drakrag van die weiding oor die langtermyn.

Eienskappe van ‘n UHDB-stelsel:

• Oorgroeide plante en indringers word binne die eerste paar siklusse verminder wat lei tot hoër drakrag (hoofsaaklik omdat meeste onsmaaklike plante weer in die voedselketting ingebring word)
• Uiters smaaklike weiding kry kans om te herstel omdat indringer en ander onsmaaklike plante ook benut word
• Binne hierdie stelsel kan weidingsdruk asook die doeltreffende gebruik van areas wat reën ontvang het maklik toegepas word

In ‘n proef wat op Elandsfontein in die Karoo gedoen was van 2003 tot 2011 het die weiding se drakrag verbeter vanaf 24 ha/GVE/jaar (hektaar per grootvee eenheid per jaar) na 12 ha/GVE/jaar onder die HDB-stelsel en 3.72 ha/GVE/jaar onder die UHDB-stelsel.

Ten slotte net ‘n paar kernbeginsels vir volhoubare hulpbronbestuur:

  • Jou plaas is natuurlike volhoubare kapitaal wat as geheel bestuur moet word
  • Laat veld voldoende herstel en voorkom oorbeweiding
  • Hou die veedruk ten alle tye op ‘n maksimum
  • Hou jou diere tevrede met vol rumens
  • Verhoog veegetalle en verkort weityd

Veeboerdery is baie afhanklik van die elemente van die natuur (droogte, reënval, ensovoorts) en dit is ons as boer se plig om die ekologie van die veld so te bestuur dat ons volhoubaar in die geslagte kan aangaan deur te boer met veld, nie met geld.