Geskryf deur Charlie Hodgson (Met erkenning aan Dr Jasper Coetzee)
Inligting oor Prolapse
Wat is ‘n prolaps?
Wanneer die laaste gedeelte van die derm uitstulp, noem ons dit ‘n rektale prolaps. Dit kom in alle dele van Suid-Afrika voor, maar veral waar vleisskape (inheemse sowel as uitheemse rasse) intens gevoer word.
Kliniese tekens
Aanvanklik is die prolaps baie klein en kan maklik teruggetrek word as die dier opstaan, loop en hardloop. Die toestand is ook nie pynlik nie. As die toestand voortduur en die prolaps vergroot, word die slymvlies beskadig, is vol grond en tree sekondêre infeksie in. Die prolaps swel, word pynlik en bloederig en septies. Die dier staan krom, pars en kan nie meer die prolaps terugtrek nie. Die dier het koors, kan nie mis nie en verhonger. Die prolaps trek ook brommers aan wat hulle eiers in die geswelde uitstulping lê. Die dier kan vrek.
Watter moontlike faktore kan prolaps veroorsaak?
1. Daar is definitief ‘n genetiese verband. Sekere bloedlyne in verskeie skaaprasse is meer geneig tot rektale prolaps (De Wet & Bath, 1994) en daarom moet diere met rektale prolaps summier uitgeskot word en nie vir verdere teling gebruik word nie.
2. Waarnemings toon dat rektale prolaps meer by ooilammers wat gevoer voorkom en gewoonlik op 6 tot 12 maande ouderdom (Willemse, 1992). Aangesien vroulike diere meer endogene estrogene produseer, kan dit moontlik ‘n rede wees hoekom rektale prolaps meer by ooilammers voorkom. Die toestand kan dan aangehelp word deur die inname van eksogene estrogene. Voere wat hoë vlakke van estrogeen bevat, is byvoorbeeld voere wat lêhenmis en boontjiehooi bevat. Gestresde groen lusern- of klawerweidings skei fito-estrogene af wat tot rektale prolaps aanleiding kan gee as sulke weidings bewei word. Die verhittingsproses tydens verpilling van volledige voere vernietig egter hierdie fito-esterogene in die lusern.
3. Gemufde voere of weiding kan ‘n mikotoksien, Zearalenone, bevat wat estrogeniese aktiwiteit het wat tot rektale prolaps aanleiding kan gee. Vermy enige gemufde hooi, voere of weiding.
4. Sterte wat te kort afgesit word, kan rektale prolaps veroorsaak omdat die spiere rondom die anus wat aan die stertwortelbeentjies vasgeheg is, beskadig word. In sulke geval kan rektale drukking dan tot rektale prolaps aanleidng gee. Sterte moet by die 3de of 4de lit afgesit word (waar die koudale stertvoue ophou).
5. Stof afkomstig van die omgewing en / of die voer kan die diere laat nies en hoes wat die anus met “geweld” uitforseer as gevolg van die drukking. Enige hoes, byvoorbeeld as gevolg van longprobleme of respiratoriese infeksie of weens voorkoms van ammoniak as gevolg van opbou van uriene in stalle en krale wat nie goed gedreineer en geventileer word of sonskyn kry nie, kan hoes tot gevolg hê wat rektale prolaps tot gevolg het.
6. Voere wat te fyn is, is meer geneig om tot rektale prolaps aanleiding te gee.
7. Oorinplantate (bv. Ralgro) wat estrogene of fito-estrogene bevat.
8. Rantsoene wat nie goed gebuffer is nie, kan subkliniese suurpens veroorsaak wat die maaginhoud en dus ook die mis suur maak wat tot gevolg het dat die diere voortdurend druk omdat hulle anusse brand en geïrriteerd is. Hierdie voortdurende druk kan ook rektale prolaps veroorsaak . ‘n Praktyk wat dikwels help, is om ongemaalde lusernhooi altyd eenkant by die voer beskikbaar te stel (± 250 – 500 g lusern per skaap per dag). Sorg dat dit goeie gehalte hooi sonder muf of swamme is. Moenie boontjiehooi gebruik nie.
9. In oorvet diere vind ‘n aansameling van vet in die pelviese kanaal plaas wat die gedeelte van die derm voor die anus (rektum) toedruk en gevolglik moet diere harder druk om te ontlas wat tot rektale prolaps aanleiding kan gee.
10. Diere wat in krale teen ‘n helling lê sodat die ingewande “afdraande” lê, veroorsaak ‘n verhoogde drukking op die rektumgedeelte wat tot rektale prolaps aanleiding kan gee.
11. Sommige navorsers beweer dat ‘n gebrek aan oefening (stap) ook ‘n rol kan speel.
12. Diere met blaasstene waar hulle harder moet druk om te urineer (sal dan hoofsaaklik in manlike diere wees).
13. Daar is ook beweer dat indien die kalsium- tot fosforverhouding te groot is, meer gevalle van prolaps voorkom en veral waar voere ‘n baie hoë kaliuminhoud het.
14. Maagwerk weens parasiete of koksidiose veroorsaak rektale irritasie wat tot voortdurende druk aanleiding gee.
Behandeling
Kontak u veearts wat die prolaps chirurgies kan verwyder. Die anus word dan met ‘n tabaksaknaatsteek verklein om te verhoed dat die derm weer uitgedruk word.