Select Page

November 2019 Nuusbrief – Charlie Hodgson

Natkarkassindroom

Het u geweet?

Natkarkassindroom het tot gevolg gehad dat meer as 50 000 skaapkarkasse tussen 1981 en 1986 afgekeur is met ‘n verlies van meer as R2 miljoen vir die skaapbedryf.

Wat is natkarkassindroom?

Die natkarkassindroom kan duidelik gesien word wanneer die karkas ‘n blinknat voorkoms het teenoor ‘n normale karkas. Daar is ‘n waterige vloeistofaansameling in die subkutane en tussenspierse bindweefsel. Sulke waterige karkasse lyk nie mooi vir die oog nie en droog ook nie af nie. Die karkas word dus afgekeur as gevolg van estetiese redes. Die probleem wat die boer het is dat hy nie die toestand van natkarkas in die lewende dier kan sien nie, maar dit slegs kan waarneem wanneer die dier geslag is.

By watter diere kom die sindroom voor?

Natkarkassindroom kom meestal voor by jong skape en lammers en ook meer by Dorpers en Dorperkruisings.
Die area waar dit voorgekom het, was aanvanklik beperk tot sekere distrikte (Godonia, Kuruman, Postmasburg en Prieska) maar later het die verskynsel by ander abattoirs ook te voorskyn gekom. Areas in Wes-Kaap en Oos-Kaap het ook later natkarkasse gelewer.

Sien fotos aan die regterkant > Tipiese voorbeeld van ‘n natkarkas. 
Die waterige vloeistofaansameling in die bindweefsel van die karkas

Wat veroorsaak die natkarkassindroom?

’n Proef wat in Upington gedoen is het baie lig op die onderwerp gegee.
300 Skape is vir ses weke in twee groepe verdeel op ‘n plaas in die distrik. Die twee groepe van 150 is in aangrensende kampe geplaas. Die een groep het droogtekorrels plus weiding gekry om te vreet terwyl die ander groep slegs veldweiding gehad het. Aan die einde van die ses weke is al die skape saam bemark.
Die helfte van elke groep (75) is by ‘n abattoir afgelaai waar lekblokke in die oorstaankrale gevoer word en die ander twee helftes is by ‘n abattoir afgelaai waar tefhooi in die oorstaankrale gevoer word.

Resultate van proef:

(Persoonlike kommunikasie, P Jordaan, Staatsveearts, Upington 1985)

Interessante gevolgtrekkings:

  • Wanneer diere baie dors was en dan water drink saam met ‘n soutlek net voordat hulle geslag word, is die kanse baie goed dat daar ‘n natkarkas kan wees.
  • Wanneer hooi gebruik word in die oorstaankrale kan die voorkoms van natkarkas aansienlik afneem.
  • In ‘n proef van MacFarlane is gevind dat die ekstrasellulêre vloeistofvolume met een liter kan afneem by ‘n 32 kilogram Merinoskaap binne tien minute nadat die skaap 350 gram hooi gevreet het.
  • Dit blyk dat die natkarkassindroom nie net as gevolg van oorhidrering is nie, maar dat prikkelstowwe soos sout, asook die regte graad vetbedekking van die karkas benodig word om die natkarkas te laat ontstaan.
  • Waar daar slegs water by die abattoirs se oorstaankrale beskikbaar is en geen hooi of ander ruvoer nie, is die voorkoms van natkarkasse ook baie minder.

Veekos streef daarna om produkte te vervaardig wat waarde sal toevoeg vir die boer in sy boerdery!