Julie 2019 nuusbrief – Geskryf deur Danie De Lange
Kragvoer vir die Melkkoei op die Plaas
‘n Koei se daaglikse voedingsbehoefte word bepaal deur haar ras en laktasie stadium, en ook deur haar genetiese potensiaal vir melkproduksie . ‘n Vleisraskoei wat gemelk word kan geneties ongeveer 10 liter melk per dag produseer tydens piek produksie. Al kry sy die beste voer, kan sy nie meer gee nie. Daarenteen kan ‘n goeie Frieskoei tot 40 liter per dag produseer tydens piek produksie, maar dit kan net volgehou word indien die koei genoeg voer van die regte kwaliteit kry.
Indien u melkkoei net op weiding melk moet produseer en sy nie genoeg proteïen en energie kry nie, sal haar melkproduksie en hoeveelheid room vinnig afneem. Sy sal ook kondisie verloor en geneig wees om nie gou bul te vat nie.
Riglyne om melkproduksie koste-effektief te verhoog
Droë weiding verskaf te min proteïen. Vir optimale melkproduksie moet ekstra natuurlike proteïen aangevul word. Gebruik Suiwel 17, Rumen Optimizer of Rangeland Grower, want mieliemeel het slegs 8 persent proteïen en sal daarom nie melkproduksie na wense stimuleer nie.
Tydens die eerste 8 weke na kalwing moet 500g kragvoer per liter melk aangevul word. Daarna sal 400g kragvoer per liter melk voldoende wees.
Vermy enige verandering in die voedingstelsel en roetine van u melkkoeie.
Voer dieselfde kragvoer daagliks. Melk en voer elke dag op dieselfde tyd, selfs oor naweke.
Hou minder koeie aan om dieselfde hoeveelheid melk te produseer. ‘n Koei wat net 6 liter melk produseer gebruik ‘n groter deel van die voer vir onderhoud in vergelyking met ‘n koei wat 15 liter melk produseer.
Droog koeie 2 maande voor kalwing op. Die koeie moet hierdie rustyd kry om effektief te produseer in hulle volgende laktasie stadium. Dit is baie belangrik dat hulle kondisie in hierdie 2 maande verbeter.
Vermy lang loopafstande en groot kampe vir u melkkoeie.
Ruvoer is die basis van koste-effektiewe melkproduksie. Hoe beter die weiding, hoe hoër die melkproduksie. Dit verlaag dan die voerkoste en die koste per liter melk.


