Januarie 2019 Nuusbrief – Mari Luyt
Groen en Goud
Dit is geen geheim dat lusern en mielies ‘n wenkombinasie vir herkouervoer is nie. Hierdie twee komponente maak die grootste deel van Veekos se skaap rantsoene uit. Veekos gebruik maandeliks letterlik duisende tonne mielies en lusern.
Lusern en mielies se kwaliteit verskil en dus het albei grondstowwe hulle eie klassifiseringstelsel. Lusern se graderingsklasse staan bekend as Prima, Klas 1, Klas 2 en Klas 3. Die grootste faktor wat die gradering van lusern bepaal is die lusern se verteerbaarheid en nie die proteïenvlakke nie. Lusern wat die meeste verteerbaar is sal ‘n Prima gradering hê, teenoor ‘n Klas 3 wat minder verteerbaar is. Lusern wat minder verteerbaar is (soos ‘n Klas 3), is meer stokkerig en harder. Meer verteerbare lusern het meer blaarmateriaal en die lusern sal ook groener en sagter wees. Dus sal Prima lusern ook meer smaaklik wees vir die diere. Daar is wel ‘n korrelasie tussen proteïenvlakke en graderingsklas van lusern. Omrede hoër graderingsklasse meer blaarmateriaal bevat (wat hoër in proteïene is) is die kans groter dat hierdie graderings ook hoër proteïenwaardes kan hê as swakker grade. Hierdie verskynsel is egter nie die reël nie, en daar is uitsonderings waar laer klasse hoër proteïen vlakke kan hê.
Veekos neem talle vragte lusern elke dag in, en die gemiddelde proteïenvlak vir die lusern word deurlopend bepaal en daarvolgens geformuleer. Eerste snit lusern, en lusern hierdie tyd van die jaar het oor die algemeen die hoogste vlakke van proteïene. Tans is Veekos se gemiddelde proteïenvlakke vir lusern 19.8% en dit wissel tussen 16.7% en 24.3% gedurende Desember.
Die tweede grootste faktor wat die klassifikasie van lusern beïnvloed is die teenwoordigheid van vreemde materiaal, naamlik grasse, mieliestronke en onkruid. Prima en Klas 1 lusern moet volgens die Nasionale Lusern Trust (NLT) geen vreemde materiaal bevat nie. Veekos neem ook geen gemufde lusern in nie.
Mielies word weer gegradeer volgens die hoeveelheid vreemde materiaal, die hoeveelheid gebrekkige mielies (soos ryp- en waterskade), asook die hoeveelheid mielies wat gebreek is en te fyn is. Hierdie eienskappe mag nie meer as 15.3% van die totale vrag uitmaak nie dan is die mielies nie meer Graad 1 mielies nie. Veekos neem net Graad 1 mielies in en mielies met lewendige insekte of klippe word glad nie aanvaar nie. Mielies se proteïenvlakke is gemiddeld 7.7% en dit wissel tussen 7.4% en 8.2% vir Desember wat nie ‘n groot verskil is nie. Die proteïenwaarde van mielies is egter nie sy belangrikste eienskap nie, maar wel die energiewaarde. Mielies het 12.2 MJ/kg energie, wat baie hoog is, in vergelyking met ander grondstowwe.
Die kombinasie van mielies en lusern in ‘n skaaprantsoen bly ‘n wenresep, maar die gehalte en balans van vitamiene en minerale kan soms onvoldoende wees.
Veekos het ‘n Afrondkonsentraat met ‘n voldoende vitamien en mineraal insluiting, die regte kalsium- en fosfaatbalans en ammoniumsoute vir die voorkoming van nierstene. Die Afrondkonsentraat tesame met mielies en lusern vorm ‘n gebalanseerde ratsoen wat aan al die behoeftes van voerkraallammers voldoen.