Die Voeding van Lakterende Ooie in ‘n Intensiewe Stelsel.

Die voedingsbehoeftes van ‘n lakterende ooi is van die hoogste van enige ander fisiologiese stadium in haar lewe. Die ooi moet melk produseer vir haar lam en weer kondisie optel om so vinnig as moontlik weer gedek te word en verder ook aan haar eie onderhoudsbehoefte voldoen. Tabel 1 toon aan wat die behoefte van lakterende ooie is wat met enkelinge of tweelinge dragtig is.

Tabel 1: Spesifikasies van lakterende ooie:

Spesifikasies van lakterende ooie Innames (kg) Proteïen (g/kg) Energie (MJ/kg) Kalsium (g/kg) Fosfaat (g/kg)
Laktasie ooi, 60kg liggaamsmassa,
6-8 weke na lam met ‘n enkeling
2.3 138.7 9.8 4 2.9
Laktasie ooi, 60kg liggaamsmassa,
6-8 weke na lam met ‘n tweeling
2.6 155.8 9.8 4.1 3

In ‘n intensiewe stelsel is die voeding van die ooi voor en na lam van die belangrikste periodes en moet dit reg bestuur word. Ons beveel aan dat ooie ses weke voor lam aangepas word op die Lakterende Ooikorrel. Begin met 500g voer per dag en vermeerder die rantsoen stelselmatig soos in Tabel 2 aangedui. Ooie se droëmateriaal innames moet ongeveer 4% van hulle liggaamsmassa wees, dus moet die ander gedeelte van die ooi se voeding bestaan uit die natuurlike veld of addisionele ruvoer.

Tabel 2: Voorbereiding voor lam

Weke voor lam g/dag Totaal vir week (g)
6 (Week 1 van voorbereiding) 500 3500
5 (Week 2 van voorbereiding) 800 5600
4 (Week 3 van voorbereiding) 800 5600
3 (Week 4 van voorbereiding) 1000 7000
2 (Week 5 van voorbereiding) 1000 7000
1 (Week 6 van voorbereiding) 1500 10 500
Totaal 39 200

Ooie wat nou in lamkampe of lamhokke geplaas word moet volledig aangepas wees tot die Lakterende Ooikorrel en moet geen addisionele ruvoer ontvang nie. Hulle moet die Lakterende Ooikorrel ook nou ad lib ontvang (sonder enige beperkings). Die rede hiervoor is die feit dat die ooi se fetus of fetusse, tesame met die vrugwater so baie plek in haar buik opneem dat haar rumen (grootpens) baie min spasie het. Indien ‘n ooi haarself dik eet aan lae kwaliteit ruvoer wat stadig verteer gaan sy nie genoeg nutriënte van die Lakterende Ooikorrel inneem nie, en sal sy moontlik metaboliese steurnisse ondervind waar sy swaar sal lam, swak lammers sal lam of onvoldoende melk produseer.

Daar is twee belangrike metaboliese siektes wat ‘n ooi net voor sy lam kan ondervind. Hierdie siektes is Domsiekte (Pregnancy disease) en Melkkoors (Milkfever) wat nie verwar moet word met mastisis of blou uier nie. Domsiekte is ‘n tekort aan energie. Ooie, veral ooie met meerlinge, sukkel om genoeg nutriënte in te neem omrede hulle rumen spasie beperk is. Ooie sal van hulle vetreserwes begin afbreek vir energie (dit is hoekom ‘n goeie kondisietelling so belangrik is), maar die proses is nie vinnig genoeg nie en die ketone wat afgebreek word tas die brein aan. Die ooi sal eenkant en dom voorkom, nie vreet nie en later in ‘n koma gaan en vrek. Dit is dus belangrik dat ooie nie te maer of te vet is voor hulle lam nie. Sy moet genoeg van ‘n hoë spesifikasie ooi rantsoen inkry en nie baie hanteer word voor lam nie. Die stres van die hantering en die die hantering self kan veroorsaak dat sy nie eet nie wat na domsiekte kan lei.

Melkkoors is ‘n kalsiumtekort wat die ooie verlam maak. Die ooi het kalsium nodig vir haar fetus om te groei, vir melk produksie en vir spiersametrekkings tydens die geboorteproses. Wannneer ‘n ooi nie genoeg, of vinnig genoeg, kalsium uit haar dieet of bene kan onttrek vir haar fetus nie sal haar spiere ophou werk en word sy verlam. Ooie sal melkkoors kry as die ooirantsoen nie genoeg kalsium in het nie, of as die fosfaatvlakke van die dieet te hoog is en dit die kalsiumabsorpsie onderdruk. Ooie wat meerling fetusse het kry nie altyd genoeg kalsium in nie en ouer ooie is ook meer geneig om melkkoors te kry. Ooie wat melkkoors kry sal sukkel om geboorte te gee en die lammers sal vassit in die geboortekanaal en doodgaan. ‘n Ander effek kan ook wees dat die ooi ‘n gesonde lam baar maar nie genoeg krag het om op te staan sodat die lam kan soog nie.

Veekos het twee ooi rantsoene wat vir laatdragtige en lakterende ooie gegee kan word, die Veekos Kruipveekorrels of die Veekos Lakterende Ooikorrels. Albei hierdie rantsoene is volledig geformuleer en sal aan al jou ooi se behoeftes voldoen.

Veekos Kruipveekos is gerieflik omdat die lammers ook van dieselfde korrels kan vreet terwyl dit vir die ooie gevoer word. Hierdie produk het baie hoë deurvloeiproteïen- en energievlakke. Hierdie korrels word aanbeveel wanneer boere begin met ‘n intensiewe skaaplam stelsel. Hierdie korrels is goedkoper as die Veekos Lakterende Ooikorrels en wanneer ‘n intensiewe skaaplam stelsel begin word, word ooie nog geselekteer vir vrugbaarheid. Van die ooie sal nie dragtig wees nie en meerlinge sal in die minderheid wees. Veekos Kruipveekorrels is dus die ideale produk om so ‘n sisteem mee te begin terwyl daar nog groeipyne is wat uitsorteer moet word. Tabel 3 hier onderlig die voedingswaarde van die produk uit.

Tabel 3: Veekos Kruipveekorrels se geregistreerde nutriëntvlakke

Kruipveekos – Massa: 50kg
Reg no. NFF 0093 / V 1736 (Wet 36/1947)
Klas: Ooi en lammervoedsel

Samestelling Min Maks
Proteïen g/kg 150
Proteïen ex NPN % 12.1
Vog g/kg 120
Vet g/kg 25 75
Vesel g/kg 100 150
Kalsium g/kg 10 15
Fosfor g/kg 3
Ureum g/kg 0

Veekos Lakterende Ooikorrel is ‘n hoog gespesialiseerde produk. Hierdie produk bevat die regte mineraal samestellings om die korrekte balans van kalsium, fosfaat en magnesium te voorsien, om te verhoed dat ooie melkkoors kry. Hierdie produk bevat uiterse hoë vlakke van deurvloei proteïene en vismeel. Dit is ideaal vir ‘n stelsel waar lampersentasie bo 140% is of waar ooie geneig is om melkkoors te kry. Hierdie produk is nie skadelik vir lammers nie en lammers kan saam met hulle moeders van hierdie produk inneem. Veekos Lakterende Ooikorrel word aanbeveel vir ooie vanaf ses weke voor lam (met goeie aanpassing tot lam) en dan vir tien dae ad lib in die lamhokkies / lamkampies. Daarna word dit aanbeveel om oor te skakel na Veekos Kruipveekorrel om kostes te bespaar.

Tabel 4: Veekos Lakterende Ooikorrel se geregistreerde nutriëntvlakke

Lakterende ooi korrels – Massa 50kg
Reg no. NFF 4100 / V 29661 (Wet 36/1947) Klas: Ooi en lammervoedsel

Samestelling Min Maks
Proteïen g/kg 150
Vog g/kg 120
Vet g/kg 25 70
Vesel g/kg 100 150
Kalsium g/kg 6 15
Fosfor g/kg 3
Ureum g/kg 0

Ooie moet dus vir ses weke voor lam en vir tien dae na lam in die lamhokkies / lamkampies die Veekos Lakterene Ooikorrel of Veekos Kruipveekorrel kry, daarna word hulle voeding verander na die Veekos Kruipveekorrel en kan hulle ook stelselmatig minder van die rantsoen ontvang. Ons beveel aan dat die ooie vir die eerste drie weke na hulle uit die lamhokke uitkom 1.5kg Veekos Kruipveekorrel ontvang met addsionele ruvoer en dan vir die volgende drie weke net 1kg Veekos Kruipveekorrel met addisionele ruvoer. Die laaste sewe dae voor die lammers gespeen word, word alle aanvullende voeding van die ooie weggeneem en net ruvoer word vir die ooie gegee sodat hulle uiers kan begin opdroog tussen hulle lammers om mastistis / blou uier te voorkom. Lammers wat in hierdie tydperk Veekos Kruipveekos gekry het kan op twee maande ouderdom gespeen word.

Veekos Kruipveekorrel en Veekos Lakterende Ooikorrel word met baie sukses in die industrie gevoer. Skakel gerus enige van ons kundige personeel vir hulp met u voeding en bestuur van intensiewe skaapstelsels.