Geskryf deur Pieter Groenewald
Die Suid Afrikaanse Karkas klassifisering Sisteem van Skaapvleis
Skaap karkasse word volgens die Suid-Afrikaanse karkas klassifiserings sisteem geklassifiseer en word met ‘n rollermerk aangedui. Die gekleurde roller merk wat soms gesien word op die vleis in supermarkte is heeltemal onskadelik. Dit dui die ouderdom en vetheid van die karkas aan.
Hoekom word karkasse geklassifiseer?
Karkasse word geklassifiseer om te verseker dat alle verbruikers weet watter tipe vleis hul koop. Dis nie noodwendig om aan te dui watter karkas beter of slegter is nie, omdat almal nie dieselfde smaak voorkeure het nie. Die verbruikers hou daarvan om self te besluit watter tipe karkas hulle wil gebruik, juis omdat almal se smaak verskil.
Hoekom het sekere snitte merke op?
- Hierdie merke word op die karkasse aangebring na slagting wanneer die karkasse geïnspekteer en gegradeer word.
- Die merke dui die ouderdom van die skaap aan asook die vetheid van die karkas en die slagpale se identiteitskode, sodat die verbruiker kan teruggaan om te weet waar die spesifieke karkas vandaan kom.
- Die merke word deur ‘n rollermerk oor die hele karkas aangewend maar slegs sekere snitte sal die merk op hê wanneer die snitte in die supermark lê.
- Hierdie merke is onskadelik en word met groente kleurstof gemaak sodat dit verdwyn tydens die gaarmaak proses.
Ouderdom van die dier.
Daar is vier ouderdomsgroepe waarin die skaap geplaas word. Naamlik A (0 tande), AB (2 tande), B (4 tande), C (6 en meer tande). Skape wissel gewoonlik hulle eerste tande tussen 1 en 2 jarige ouderdom. As hulle dan geslag word is hulle AB graad. Die volgende tande wissel so rondom 3 jarige ouderdom en is dus dan B graad. As die skaap nou weer wissel is hy dus C graad.
Vet hoeveelheid.
Vet hoeveelheid en verspreiding word met die oog gemeet deur opgeleide vleisgradeerders. Daar is 7 klasse en wissel van 0 (geen vet) tot 6 (oorvet). Dus is ‘n karkas met ‘n gradering van AB 0 ‘n 2 tand skaap met geen vet. ‘n Ideale karkas in baie verbruikers se oë is ‘n A2 wat ‘n lam is met ‘n klein lagie vet om.
Menigde mense, insluitend myself, se persoonlike voorkeur sal ‘n AB 3/4 karkas wees, wat meer geurig is, met ‘n lekker lagie vet om.