Desember 2019 Nuusbrief – Pieter Groenewald

Die Australiese Beeshond 

Is jy opsoek na ‘n werkshond, ‘n jaghond, of ‘n waghond? Jy kan sommer al drie in een kry met die Australiese Beeshond!

Agtergrond

Die Australiese Beeshond is afkomstig van Australië. Hierdie ras is spesifiek geteel om beeste aan te jaag oor lang afstande en veral oor moeilike terreine. Mens kan voorbeelde daarvan sien in die rolprent  Australia). Australiese Beeshonde is geteel uit die Australiese wildehond, die dingo. Die honde het twee verskillende kleure pels: grys en swart (Blue Heeler) of wit en rooi (Red Heeler).

Volwasse Australiese Beeshonde weeg ongeveer 20 kilogram. Alhoewel hierdie ras nie baie swaar is nie, is die honde baie sterk en stewig. Australiese Beeshonde se lewensduur is so tussen 12 en 14 jaar.

Jaghonde

Alhoewel Australiese Beeshonde nie van nature jaghonde is nie kan hulle geleer word om te jag. Omdat hierdie honde so geheg raak aan hulle eienaars leer hulle graag nuwe vaardighede om hulle eienaars te behaag. Hierdie honde is uiters slim en kan baie maklik opgelei word om diere uit gate te jaag of spoor te sny. Hulle is ook baie gehard en sal dus nie maklik beserings opdoen nie.

Werkshonde

Hierdie honde is uitstekend vir ‘n boer wat beeste op die plaas het, aangesien die ras spesifiek geteel is om met beeste te werk. Australiese Beeshonde is vinnig, intelligent, gehard, en word nie sommer afgeskrik nie. Hierdie honde sal maklik beeste wat 800 kilogram meer as hulle weeg aanjaag en in die regte rigting stuur. Die instink is so diep gegrond in die honde dat dit ook glad nie moeilik is om hulle te leer om met skape te werk nie. Soms is hulle geneig om te rof met skape te werk omdat hulle so gehard is, maar hulle kan opgelei word om versigtiger te wees. Australiese Beeshonde is baie intelligent en leer maklik nuwe vaardighede. Hierdie honde is voorwaar perfekte kuddehonde, want hulle kan by skape, beeste, en bokke gebruik word.

Waghonde

Hierdie honde word verskriklik geheg aan hulle eienaar en gebied. Australiese Beeshonde sal mense en diere wat nie in jou erf of naby jou huis hoort nie vinnig verjaag. Omdat hulle so braaf en gehard is, is hulle vir niks en niemand bang nie en daarom is hulle uitstekende waghonde. Hulle is ook goed met kinders en baie beskermend teenoor hulle. Hierdie is so na aan die perfekte hond vir ‘n plaas wat ‘n mens kan kry . Jy sal nie sommer ‘n ander hond kry wat so veelsydig is soos Australiese Beeshonde nie. Dis besonders lojale honde en sonder twyfel sal jy hierdie viervoetige ‘kinders’ baie geniet.